Geagte voorsitter, dames en here, landbouers en vriende: Ek is gevra om oor die rol en verantwoordelikheid van die regering ten opsigte van die bedryfsomgewing vir wintergraanproduksie te praat.
Ek is bewus van die feit dat my opmerkings vandag aan u kom in `n tyd wanneer dit swaar gaan met koringprodusente, en ek verneem dat nie een van die vier hoofproduksiestreke tans winsgewend produseer nie. Suid Kaapse boere is heel onder aan die lys met beraamde verliese van R395 per ton vir Desember se Safex prys, as mens aanvaar dat boere tans R2 535 per ton moet verdien om winsgewend te wees.
Ek het onlangs `n aanbieding deur GraanSA gesien wat al die insetkostes om 'n 700 g witbrood te bak uitwys. Ook hier is daar gevaarligte, aangesien dit gewys het hoe die pimêre produsent se produksiekoste met 9.5% verhoog het vanaf 2008 tot 2009. Dit het bygedra dat bruto inkomste met 23.5% gedaal het, en produsentewins met `n yslike 81.5% gekrimp het. Dit als in `n tydperk waar die broodprys met 10% gestyg het.
So wat is die rol van die regering in hierdie situasie? Of laat my toe om die vraag so te stel: Het `n regering in die moderne wêreld nog enigsins `n rol te speel? Ons leef tog in `n vrymark in die "global village".
Ek dink die antwoord op hierdie vraag is beslis ja. Maar dit gaan oor veel meer as net die koringprys. Ek haal die Britse Nobelpryswenner, filosoof en wiskundige, Bertrand Russell (1872-1970) aan: "As een mens jou demokrasie aanbied en `n ander `n sak graan, in watter stadium van hongersnood sal jy die graan bo die stem verkies?"
Hierdie vraag is die hoeksteen waarop die moderne wêreld gebou is, en ander lande besef dit baie goed. Regerings weet dat om demokrasie te beskerm moet jou mense kos hê, want honger mense raak onrustig. En daarom sal die wêreld moonthede voedselsekuriteit ten alle koste beskerm.
Verskillende regerings het verskillende strategieë om voedselsekuriteit en hul landbousektore te beskerm, en alhoewel dit alles binne die sogenaamde vryemark omgewing geskiet, het `n bepaalde strategie wel verrykende gevolge vir die betrokke sektor. Kom ons kyk eers in breë trekke na wat in die wêreld gebeur ten opsigte van regerings en hul onderskeie landbousektore:
Die Verenigde State van Amerika (VSA) en die Europese Unie (EU) gebruik die reëls van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) tot hul voordeel. Hulle is meesters om die maksimum beskerming vir hul plaaslike sektore te beding, en is nie bang om soms selfs die reëls te oortree, en dan later omverskoning te vra nie.
Die Chinese regering gebruik `n tegnologies gedrewe benadering tot landbou-ondersteuning. Hulle het `n effektiewe voorligtersdiens ontwikkel, en belê en ondersteun die ontwikkeling van tegnologie en navorsing wat produksie effektiwiteit verhoog. Hierdie benadering het toegesien dat meer as 200 miljoen Chinese boere uit armoede gelig is.
Indië beskerm sy landbou deur sekere gewasse as strategies tot die land se sekuriteit te verklaar, en dan deur middel van uiters hoë tariewe daardie gewasse te beskerm.
Brasilië aan die ander kant, het `n uiters vriendelike beleggersomgewing geskep deur die minimum subsidies of tariefheffings op landbouprodukte te plaas. Hulle streef na vrye handel van landbouprodukte en is uitvoer gefokus. Brasilië se landbou is tans in `n groeifase.
Dit bring my by Suid Afrika, en meer spesifiek die Wes-Kaap. Ek dink dat ons in die unieke posisie is om na al die bogenoemde strategieë te kan kyk. Ons kan dit analiseer en die pluspunte en negatiewe eienskappe ontleed. Ons kan die beste uit almal neem en dit op toepassing maak vir Suid Afrika.
Ons moet onthou dat landbou in ons land uit twee komponente bestaan: Kommersiële boere en nuwe boere. Met dit in ag genome, dink ek dat vir ons nuwe boere moet ons soos die Chinese met tegnologie en goeie voorligtersdiens hul omgewing aanspreek.
Programme waar `n nuwe boer vir `n aantal jare gesubsidieer word en gehelp word om homself as volwaardige kommersieël boer te vestig.
Die voordeel van tegnologie en navorsing is dat dit nie diskrimineer tussen kommersiële of nuwe boere nie. Dit is van toepassing op beide. Maar ons nuwe boere benodig dringend goeie voorligtersondersteuning, en dit is verseker iets wat my Departement kan en gaan doen.
Dames en here, ek weet dat dit klink als baie goed en positief, maar die harde realiteit is dat u as kommersiële produsente nie tans volhoubaar kan boer met koring nie. Maar dit is nie net `n Suid Afrikaanse probleem nie. Dit is die wêreldkoringprys wat tans rondom R2 400 per ton verhandel. En `n mens moenie uit die oog verloor dat wanneer oor die afgelope sewe jaar periode gekyk word, koring wel winsgewend op langer termyn was nie.
Ons moet oor tariewe ook praat. `n tarief sal wonderlik wees, en ek weet dat GraanSA besig is om op hoë vlak samesprekings hieroor te voer. Op die korttermyn is dit nodig. `n Tarief is egter nie `n langtermyn oplossing vir die winsgewendheid probleem wat ons tans in die gesig staar nie. Tariewe bring voordele en nadele, en ons sal moet besluit wie kry die voordele en wie gaan tevrede wees met die nadele. Die probleem van winsgewendheid moet deur die staat en die industrie gesamentlik aangespreek word.
Daar is strukturele probleme in die bedryf. Dit bly steeds `n feit dat dit goedkoper is om koring vanuit Argentinië via Durban na Suid Afrika te verskeep as wat dit is om koring vanuit die Wes-Kaap na Randfontein te stuur. Hier sal die Staat moet help met infrastruktuur, soos spoorvervoer.
Hoe gaan die koringindustrie simpatie by die regering kry as daar min swart koringboere is? Indien die bedryf sinvol met die Regering wil onderhandel, sal daar meer swart koringboere moet wees. Hier gaan georganiseerde landbou sy kant moet bring.
Graanboere is prysnemers. Graanboere is ook afhanklik van die klimaat ten opsigte van hul uiteindelike oeste. Dit beteken dat jy ook relatief min beheer oor jou uitsette het, behalwe deur meer of minder te plant. As produsent is die aspek waaroor jy die meeste beheer het steeds insette.
Dit sal my en my Departemement se fokus wees om u te ondersteun met navorsing wat insette sal verminder terwyl dit uitsette vermeerder. Groter oeste met minder insetkostes.
Ek glo dat een van die verantwoordelikhede van die regering in hierdie verband is om navorsing te doen. Navorsing skep beleggersvertroue. Navorsing kan ons help om aan te pas by veranderende omstandighede, soos klimaatsverandering. Die regering het `n verpligting hier, aangesien daar nie altyd `n winsmotief in noodsaaklike navorsing bestaan nie, en gevolglik sal die privaatsektor dit nie doen nie.
So is die Wes-Kaap se Departement van Landbou al meer as 25 jaar betrokke by navorsing oor bewaringsboerdery. Hierdie program is uiters suksesvol. Waar slegs 5% produsente dit toegepas het in die vroeë 90's, produseer meer as 60% van die Wes-Kaap se koringboere nou jaarliks 300 000 hektaar koring met bewarings boerdery tegnieke.
En gewas rotasie navorsing is `n integrale deel van volhoubare graan produksie in die Wes-Kaap. Rotasie navorsing is in 1996 in die Swartland begin, en op grond van die sukses daarvan in 2002 na die Suid Kaap uitgebrei. Volgens ons navorser, Dr Mark Hardy, kan sekere rotasie kombinasies koringproduksie met tot 30% verbeter in die Swartland.
Ons het so pas ons voorligterbeamptes met Smart Pen tegnologie toegerus. Dit, tesame met `n verskerpte fokus op opleiding sal verseker dat die diens wat hulle lewer in die toekoms sal verbeter.
Iets wat die afgelope 15 jaar agterwee gebly het in Suid Afrika is die instandhouding van landelike areas. Deel van my verantwoordelikheid is ook nou landelike ontwikkeling. Graanproduksie impliseer groot plase met min werkers. Dit plaas ekstra druk op die instandhouding van infrastruktuur soos paaie, skole, klinieke en polisiestasies op landelike dorpe.
Die rol van die regering en sy interpretasie van wat daardie rol is, kan `n groot invloed hê op hoe ons platteland uiteindelik lyk. So is daar sprake in die res van die land dat skole met minder as 300 studente gesluit gaan word. Daardie kinders sal na koshuise by groter skole gestuur word. In die Wes-Kaap dink ons dat dit verkeerd is, en gaan ons saam met die Departement van Onderwys werk om die bestaan van ons plaasskole te verseker.
Vriende, ek sluit af: Die Wes-Kaap regering sal minder inmeng met dinge wat goed werk, en meer fokus op dienslewering en om die onderskeie sektore te ondersteun. Landelike ontwikkeling sal in die breë hiervoor instaan.
Die volhoubaarheid van graanproduksie in die Wes-Kaap gaan afhang van hoe effektief ons die onderskeie wintergewasse kan verbou. Hiervoor is navorsing nodig. Met ons Landelike Ontwikkelingstrategie gaan ons poog om die omgewing te skep waarbinne u graag wil boer. Netjiese en veilige dorpe met skole en hospitale wat funksioneer.
Ek wonder soms of mense besef hoe belangrik dit is dat daar kos op ons winkelrakke moet wees, en wat sal gebeur die dag wanneer mense met geld opdaag maar daar is nie kos om te koop nie. Ek dank u vir die bydrae wat u maak om ons samelewing aan die gang te hou.
